Katolieke Network Suid Afrika

 Katolieke Netwerk Suid- Afrika

Catholic Network South Africa

Catholic Network South Africa

Catholic Network

 

Katolieke apologie, ondersteuning vir bekeerlinge en nationale netwerk 

 

Ons missie

Om diegene te dien wat navraag doen oor die Katolieke Kerk, of wat volle gemeenskap met die Een Heilige Katolieke en Apostoliese Kerk verlang. Deur 'n landwye netwerk van ondersteuners te vorm, ondersteun en help ons mekaar om ons geloof te verdiep.

BASIESE MARIOLOGIE – MARIA, MOEDER VAN GOD

 

Mariologie is die studie van Maria en haar rol in verlossingsgeskiedenis, met die fokus op haar plek in Katolieke leerstellinge en tradisie.

 

Debateerbaar die mees welbekende vrou in die Bybel, speel Maria Moeder van God ‘n belangrike rol in ons verlossingsverhaal van die oomblik waarin die engel Gabriël haar groet as “vol genade” (Lukas 1:28). Van daar tot aan die voet van die kruis waar sy getrou by haar sterwende seun bly (Johannes 19:25), tot haar glorieryke opname na die hemel tot waar sy gekroon word as Koningin Moeder van die Heelal (Openbaring 12:1-6).

 

Katolieke toon sulke ontsaglike liefde vir Maria dat ons gereeld daarvan beskuldig word dat ons haar aanbid of verafgod – wat nie waar is nie, ons vereer en toon respek aan haar vir haar noodsaaklike rol in God se verlossingsplan vir ons, en ons vra haar om vir ons te bid tot haar seun, Jesus, met wie sy ‘n kragtige moederlike band het.

 

 

Katolieke Dogmas rakende Maria

Ons sal nie hier ingaan op al die besonderhede van Maria se verhaal nie – daarvoor kan ons in die Evangelies lees – maar ons sal hier slegs fokus op slegs vier sleutelaspekte van Maria se lewe wat kern en redelik uniek tot die Katolieke Kerk is. Hierdie aspekte word dogmas genoem – waarhede wat deur God bekend gemaak is en wat deur die Kerk uiteengeset is, en waarin lede van die Kerk verwag word om te glo. Die belangrikheid van hierdie dogmas word bevestig deur die feit dat twee van hulle verkondig is as “ex-cathedra” verklaringe van die Pous – die enigste twee sulke verklaringe tot dusver in die geskiedenis van die Kerk.

 

Dogma 1: Die Onbevlekte Ontvangs (KKK 491-492)

Maria se verhaal begin eintlik lank voor ons aan haar in die Bybel bekendgestel word – met haar onbevlekte ontvangenis. Baie mense maak die fout om te dink dat die term “onbevlekte ontvangs” verwys na Jesus se konsepsie in Maria se moederskoot, maar dit verwys eintlik na Maria se konsepsie sonder die vlek van erfsonde in voorbereiding vir haar rol as die Moeder van God.

 

Kerk tradisie is dat Maria se ouers, die Heiliges Joachim en Anna, ‘n bejaarde egpaar was en tenspyte van hul pligsgetroue geloof, steeds kinderloos was – ‘n bron van groot hartseer en skaamte in hul Joodse gemeenskap. Een dag, nadat sy tempeloffer weens sy kinderloosheid afgekeur is, het Joachim na die woestyn gegaan om te bid en te vas vir 40 dae. Terselfde tyd het Anna by die huis gebly, maar ook tot God gebid vir ‘n kind. ‘n Engel het toe apart aan beide verskyn en verkondig dat Anna ‘n kind sal ontvang. Kort daarna is Maria wonderbaarlik ontvang deur haar bejaarde ouers, soortgelyk aan die ontvangs van die Heilige Johannes die Doper wat ook later so wonderbaarlik deur sy bejaarde ouers, Sagaria en Elisabet, ontvang sou word.

 

Die Onbevlekte Ontvangs beteken dat Maria vanaf die eerste oomblik van haar bestaan vry was van erfsonde, deur die genade van God. Sy het deur haar lewe so gebly, soos weerspieël word in die woorde waarmee die engel Gabriël haar groet “Wees gegroet Maria, vol genade”(Lukas 1:28). In hierdie bestaan van genade, was Maria in staat om sonder twyfeling te reageer op die verkondiging dat sy geboorte sal gee and die Seun van God met die woorde “Ek is die diensmaagd van die Here – laat dit met my gebeur volgens u woord” (Lukas 1:38). Hierdie stelling word Maria se “fiat” genoem. Deur haar onmiddelike en lewenslange onderwerping aan God, word Maria soms die “Nuwe Eva”genoem. In kontras met Eva – die “moeder van alle lewendes” maar deur wie die dood in die wêreld gekom het deur haar ongehoorsaamheid aan God – is Maria die “moeder van alle verlostes” en bring sy lewe in die wêreld deur Christus en deur volle gehoorsaamheid aan God.

 

Die Ortodokse Kerk verwerp hierdie dogma, omdat hulle ‘n ander siening van die konsep van erfsonde het, maar sien steeds op na Maria as “allerheilig”. Protestante verwerp die dogma, en stel voor dat Maria ‘n sondaar soos alle ander mense was. In 1854 het Pous Pius IX die Onbevlekte Ontvangs as Katolieke dogma verklaar, in die vorm van ‘n “ex-cathedra” verklaring – die eerste van slegs twee tot dusver. Die fees van die Onbevlekte Ontvangs van Maria word jaarliks op 8 Desember gevier as ‘n verpligte feesdag. In sekere kulture word die dag tradisioneel gevier deur kaneel-gegeurde koekies voor te berei, gebaseer op ‘n ou bron wat verwys het daarna dat Maria so soet soos kaneel geruik het.

 

Dogma 2: Maria Moeder van God (KKK 495)

Die volgende belangrike aspek van Maria se verhaal is dat sy geboorte aan Jesus geskenk het, en so die Moeder van Jesus geword het. Maar die Katolieke Kerk neem dit ‘n stappie verder en noem haar die “Moeder van God” (“Theotokos” in Grieks). Ander gelowe en selfs ander Christene argumenteer gereeld dat omdat sy nie aan God self geboorte geskenk het nie, sy nie Sy moeder genoem kan word nie. Die Katolieke Kerk antwoord hierop dat siende dat sy geboorte geskenk het aan Jesus – wat tenspyte van die feit dat hy een goddelike persoon was, twee nature het, en dus beide ten volle mens en ten volle God is – en siende dat Hy beskou word as die tweede persoon van die Heilige Drie-Eenheid as God die Seun, so ook een is met God die Vader (en ook die Heilige Gees). Dus het Maria nie net geboorte geskenk aan ‘n mens nie, maar aan God se vleesgeworde Woord. Sy is nie die bron van Jesus se goddelikheid nie, maar sy het geboorte geskenk aan Hom wat ten volle goddelik is, en sy is nie die bron van God nie, maar die moeder van die goddelike persoon Jesus in sy menslike natuur.

 

Die titel van Maria as “Theotokos” (“God-draer”) was formeel bevestig tydens die Konsilie van Efese (die Derde Ekumeniese Konsilie) in die jaar 431. Die dogma word ondersteun deur Bybelse verse soos Lukas 1:43, waar Elisabet vir Maria die “moeder van my Here” noem – die oorspronlike teks in Latyns gebruik die term “Kyrios”, ‘n titel wat slegs vir God gebruik is. Vandag aanvaar meeste Katolieke, Ortodokse kerke en Protestante hierdie dogma. Katolieke vier hierdie verpligte feesdag van Maria die Moeder van God op 1 Januarie. Tradisionele vieringe behels gewoonlik die plasing van blomme by beelde van Maria, of optogte waartydens sulke beelde deur die strate gedra word, gevolg deur die gelowiges.

 

Dogma 3: Ewigdurende Maagd (KKK496 en 499)

Katolieke leerstellings stipuleer dat Maria voor, tydens en gedurende die geboorte van Jesus, en daarna ‘n maagd gebly het. Dit beteken dat sy Jesus in haar moederskoot ontvang het deur die Heilige Gees (nie seksuele omgang nie), dat Jesus se geboorte nie haar fisiese maagdelikheid geskend het nie, en dat sy geen ander biologiese kinders gehad het nie. Dit word gesien as ‘n teken van God se voortdurende genade in Maria se lewe, maar ook van haar gehele toewyding aan Hom deur haar hele lewe.

 

Terwyl Katolieke, die Ortodokse kerk, en selfs vroeë Protestante soos Luther en Calvin geglo het in Maria se ewigdurende maagdelikheid, argumenteer meeste moderne Protestante dat verse soos Markus 6:3 wat verwys na die “broeders en susters van Jesus” dui dat sy ander kinders gehad het. Dit is, in teenstelling tog nie waarna die term verwys nie, want die antieke Semitiese gebruik van hierdie terme is gereeld wyer gebruik om te verwys na nabye (en soms selfs effe verder verwyderde) familie.

 

Die Katolieke Kerk het in die jaar 649 tydens die Lateraanse konsilie Maria se ewigdurende maagdelikheid as dogma bevestig. Tydens die konsilie het Pous Martin I verklaar “Die heilige en ewige maagd en onbevlekte Maria, ontvang sonder saad, het op onkorrupte manier geboorte geskenk, en na Sy geboorte haar maagdelikheid onbeskend behou”.

 

Dogma 4: Maria se tenhemelopneming (KKK 966)

Die laaste van die huidige amptelike Katolieke dogmas rakende Maria handel oor die einde van Maria se tyd op aarde. Die Kerk leerstellings dui aan dat “Maria, die Moeder van God, aan die einde van haar aardse lewe liggaam en siel in glorierykheid die hemel in opgeneem is”. Al word die besonderhede van Maria se tenhemelopneming nie in die Bybel beskryf nie, word dit tog ondersteun deur die Heilige Tradisie, vroeë Christelike skrewe, en Katolieke liturgie.

 

Interessant genoeg, al bevestig die Katolieke dogma Maria se tenhemelopneming, gee dit geen besonderhede oor die gebeurtenis self nie – dit kry ons slegs uit die vroeë Christelike dokumente. Die tradisionele weergawe is dat nadat Jesus opgevaar het na die hemel, Maria gewoon het by die apostel Johannes, aan wie Jesus haar toevertrou het terwyl Hy aan die kruis gesterf het (Johannes 19:27). Toe haar tyd op aarde verby was, het Maria ‘n rustige “aan die slaap wording (dormisie)” ingegaan, terwyl die apostels om haar bymekaar gekom het. Sy is toe in ‘n grafkelder geplaas, en haar liggaam (sonder ontbinding of sonde) en haar siel is in die hemel in opgeneem met die begeleiding van die engele. Sekere dokumente voeg by dat die apostel Thomas (wat nie in Christus se opstanding geglo het todat hy Hom gesien en aan sy wonde geraak het nie) eers drie dae na Maria se dood daar aangekom het. Hy het gevra om Maria se grafkelder te sien, en toe hul binnegaan was die graf leeg, behalwe vir die klere waarin Maria begrawe is. Op daardie oomblik het Maria aan Thomas verskyn en haar kopserp as teken aan hom gegee.

Ten spyte van die verskille in die besonderhede of Maria gesterf het of net aan die slaap geraak het, en of die deel oor Thomas wel gebeur het, aanvaar beide die Katolieke en Ortodokse Kerk die inhemelopneimg van Maria. Hierdie dogma is amptelik in 1950 deur Pous Pius XII aangekondig as die tweede van die enigste twee “ex-cathedra” verklaringe van die Katolieke Kerk tot dusver. Die Katolieke Kerk vier die verpligte fees van Maria se tenhemelopneming op 15 Augustus. Die Oosterse en Ortodokse kerke voeg ‘n twee week tydperk van vas (die dormisie vastyd) by voor hierdie feesdag. Tradisionele feesvieringe behels gewoonlik die voorbereiding van kos met ‘n wolk tema soos meringues en spookasem.

 

Gewilde gebede van Maria

Wees gegroet Maria

Wees gegroet Maria, vol genade – die Here is met u. Geseënd is u onder die vroue, en geseënd is Jesus, die vrug van u skoot. Heilige Maria, Moeder van God, bid vir ons sondaars, nou en in die uur van ons dood. Amen.

 

Die Memorare

Gedenk, o vrome Maagd Maria, dit het nog nooit gebeur dat enigiemand wat u om beskerming, hulp of bemiddeling gesmeek het, sonder enige bystand gelaat is nie. Besiel met hierdie vertroue, vlug ek tot u, o Maagd bo alle maagde, my Moeder. Tot u kom ek, voor u kniel ek in sonde en verdriet. O Moeder van die Vleesgeworde Woord, verag nie my smekinge nie, maar verhoor my in u genade. Amen.

 

Finale gedagte

Die idee van Maria as so ‘n belangrike figuur in ons verlossingsgeskiedenis is soms ‘n moeilike een om te verstaan, selfs vir praktiseerende Katolieke, en selfs nog meer vir onlangse bekeerlinge en Protestante Christene. Maar, soos baie mense reeds gevind het, laat die ontwikkeling van ‘n verhouding met Maria Moeder van God ons nie net toe om haar goeie voorbeeld te volg (soos ‘n kind natuurlik maak met hul ma) nie, maar ook om te lewe in absolute eenheid met Jesus, en om ‘n lewe van nederigheid en diens vir God te aanvaar. Hoe kan ons dan anders as om die woorde van die aartsengel Gabriële te weerklink in die verkondiging “Wees gegroet Maria, vol genade”.

 

“Moet nooit bang wees om Maria te lief te hê nie. Jy kan haar nooit meer lief hê as wat Jesus haar liefhet nie.” ~Heilige Maximilian Kolbe

01

Features

Page title

Add your business motto by double clicking

Get in Touch

2025

3 konferensies waarvan die plek en tyd binnekort aangekondig sal word!