Om diegene te dien wat navraag doen oor die Katolieke Kerk, of wat volle gemeenskap met die Een Heilige Katolieke en Apostoliese Kerk verlang. Deur 'n landwye netwerk van ondersteuners te vorm, ondersteun en help ons mekaar om ons geloof te verdiep.
Deur: Werner Lottering
Een van die belangrikste dinge om te verstaan oor hierdie onderwerp, is dat die Katolieke Kerk (en ek sou die ander Oosterse Kerke soos die Ortodokse insluit) na die wêreld kyk op ’n sakramentele wyse. Wat ons bedoel met “sakramenteel” is die idee dat die wêreld vir God afgesonder of geheilig is om Sy heerlikheid te openbaar en genade deur te gee. Dit is hoekom ons na iets soos die Doop verwys as ’n sakrament, aangesien die water wat oor die kop of liggaam van die persoon vloei nie bloot ’n simbool is nie, maar iets veel dieper – ’n gebeurtenis waardeur God water gebruik om jou siel van sonde te reinig en jou te verenig met die dood en opstanding van Jesus Christus.
Die Sakramentele Wêreldbeskouing van die Katolieke Kerk leer dat die materiële wêreld ’n middel is waardeur God Sy genade kommunikeer. Die skepping self weerspieël God se heerlikheid en oneindige skoonheid, en maak die wêreld ’n teken van Sy teenwoordigheid [1]. Die sakramente, as sigbare tekens van onsigbare genade, stel ons in staat om Christus se lewenskenkende krag vandag te ervaar [2]. Aangesien Jesus Christus, die Woord wat vlees geword het, die menslike
natuur aangeneem het om ons deelgenote van die goddelike lewe te maak, is die fisiese en geestelike nou verbind [3] vgl. 2 Pet 1:4. Die Kerk, as die Liggaam van Christus, is self sakramenteel: dit verenig die mensdom met God en dien as ’n teken van verlossing [4]. Die Eucharistie is die hoogste uitdrukking van hierdie wêreldbeskouing, aangesien dit beide die bron en die hoogtepunt van die Christelike lewe is, en Christus werklik teenwoordig maak onder die
gedaantes van brood en wyn [5]. Hierdie perspektief roep gelowiges op om God se teenwoordigheid in die daaglikse lewe raak te sien, die sakramente met geloof te benader, in heiligheid te leef, en Christus in ander te sien. Jesus Christus self is die hoogste sakrament – Hy maak die Ewige God teenwoordig in menslike vorm (Joh 1:1,14; Fil. 2:5-11). Omdat God die Woord menslike natuur in Christus aangeneem het, kan die fisiese wêreld nou goddelike genade oordra.
Ons Here Jesus het ons sewe sakramente gegee. Sien hieronder ’n kort beskrywing van elkeen. Ek het direkte aanhalings (ter verduideliking) uit die Kategismus van die Katolieke Kerk ingesluit om elke sakrament verder toe te lig, asook ’n paar Bybelverwysings. Hierdie is natuurlik nie uitputtende verklarings oor die sakramente nie, maar bied goeie konteks vir wat volg.
Eucharistie – Die Bron en Hoogtepunt van die Christelike Lewe
“Die Eucharistie is die ‘bron en die hoogtepunt van die hele Christelike lewe’.” (KKK 1324)
“In die allerheiligste sakrament van die Eucharistie is ‘die liggaam en bloed, saam met die
siel en godheid, van ons Here Jesus Christus... werklik, waarlik en wesenlik teenwoordig’.”
(KKK 1374)
Die Eucharistie is die werklike teenwoordigheid van Christus. Dit voed gelowiges geestelik en
verenig hulle met God en Sy Kerk (Luk 22:19; Joh 6:53-56; 1 Kor 10:16-17; ens.).
Bieg (Belydenis/ “Confession”) – Versoening met God
“Dié wat die sakrament van die Bieg nader, ontvang vergifnis van God se barmhartigheid
vir die oortredings wat hulle teen Hom gepleeg het en word terselfdertyd versoen met die
Kerk.” (KKK 1422)
“Die belydenis van sondes, selfs net uit ’n menslike oogpunt, bevry ons en bevorder ons
versoening met ander.. "Deur so ’n erkenning kyk ’n mens reguit na die sondes waarvan
hy skuldig is, neem verantwoordelikheid daarvoor, en stel homself sodoende weer oop vir
God en vir die gemeenskap van die Kerk om sodoende ’n nuwe toekoms moontlik te
maak."” (KKK 1455)
Die Bieg herstel die sondaar tot genade, bring vergifnis van God en genesing van die siel (Matt
16:19; 18:18; Joh 20:22-23; 2 Kor 5:20; Jak 5:16; ens.).
Siekesalwing – Geestelike en Liggaamlike Genesing
“Die Salwing van die Siekes is nie net vir mense wat op die punt staan om te sterf nie, maar
ook vir dié wat deur siekte of ouderdom in gevaar verkeer om te sterf.” (KKK 1514)
“Deur hierdie heilige salwing ontvang die siekes krag en die gawe om hulle meer intiem
met Christus se lyding te vereenselwig.” (KKK 1521)
Hierdie sakrament versterk die siekes en, indien dit God se wil is, genees hulle. Dit verenig hulle
lyding met dié van Christus (Mark 6:13; Jak 5:14; ens.).
Heilige Wyding (Ordes) – Die Sakrament van Apostoliese Bedieninge
“Die sakrament van Heilige Wydings gee ’n heilige mag oor wat niks anders is nie as dié
van Christus self.” (KKK 1551)
“Hierdie sakrament vorm die ontvanger tot Christus deur ’n spesiale genade van die
Heilige Gees sodat hy as Christus se instrument vir Sy Kerk kan dien.” (KKK 1581)
Heilige Wyding stel mans aan om die Kerk te dien as diakens, priesters of biskoppe en sodoende
Christus se sending voort te sit (Hand 6:1-6; 1 Tim 4:14; Ef 4:11-12; ens.).
Huwelik – ’n Verbond van Liefde en Lewe
“Die huweliksverbond, waardeur ’n man en ’n vrou tussen hulle ’n vennootskap vir die hele
lewe vestig, is van nature gerig op die welsyn van die eggenote en die verwekking en
opvoeding van kinders.” (KKK 1601)
“Christus self gee die krag en genade om die huwelik in die nuwe dimensie van die
Koninkryk van God te leef.” (KKK 1615)
Die huwelik is ’n lewenslange sakramentele eenheid wat Christus se liefde vir die Kerk weerspieël
en oop is vir die gawe van lewe ten opsigte van kinders (Matt 19:4-6; Ef 5:25, 31; ens.).
Waar pas die Priesterskap in hierdie in?
Soos vroeër in hierdie skryfstuk aangetoon, is die Nuwe-Testamentiese Priesterskap, met Jesus
Christus as die stigter en vervolmaker daarvan, die vervulling van die ewige priesterskap wat deur
God in die Ou Testament ingestel is. Jesus roep manne om priesters te wees in Sy Nuwe Verbond
en gee aan hulle Sy gesag om die gelowiges op ’n besondere wyse deur die sakramente en die
Woord te dien en hulle te lei om volkome met Hom verenig te wees. Jesus het die priesterskap so
ontwerp dat elke priester – in sy eie swakheid en sonde – ’n besondere verteenwoordiger van Hom
kan wees in die lewens van die gelowiges. ’n Priester is geroep om sy Here en die mense wat aan
hom toevertrou is, in nederigheid, liefde, diensbaarheid en self-opoRering te dien [6]. Net soos
Sint Paulus sê in Romeine 15:16:
“’n bedienaar van Christus Jesus aan die heidine is. Ek bedien die evangelie van God priesterlik,
sodat die heidene ‘n aanneemlike ocer, geheilig deur die Heilige Gees, kan wees.”
en in 1 Korintiërs 4:15:
“Want selfs al het julle ‘n menigte opvoeders in Christus, het julle nie baie vaders nie.
Deur die evangelie het ek in Christus Jesus julle vader geword.”
Net so is die priester geroep deur sy Here om die mense wat aan hom toevertrou is lief te hê in die
voorbeeld van Christus self – deur die sakramente wat Hy ingestel het en deur die bediening van
die Woord. Die priester is op ’n besondere wyse geroep om in persona Christi (in die persoon van
Christus) op te tree, en dit kom duidelik na vore in die bediening van die sakramente, veral die
Heilige Eucharistie.
Get in Touch

Adres: Howick, Suid Afrika
Kontak besonderhede: 065 809 0258 / 072 606 1661
E-pos: info@catholicnetwork.co.za
© 2026 catholicnetwork.co.za
