Om diegene te dien wat navraag doen oor die Katolieke Kerk, of wat volle gemeenskap met die Een Heilige Katolieke en Apostoliese Kerk verlang. Deur 'n landwye netwerk van ondersteuners te vorm, ondersteun en help ons mekaar om ons geloof te verdiep.
Deur:Werner Lottering
Ons Here Jesus het in die Evangelie van Matteus 19:12 gesê dat daar “eunugs is wat hulleself so gemaak het ter wille van die koninkryk van die hemele.” Hierdie woorde van Jesus volg direk op Sy verbod op egskeiding en hertrou in die Nuwe Verbond — iets wat Sy dissipels geskok het (sien verse 8–9 en ook Paulus se verwysing daarna in 1 Kor 7:10-11). In die tyd van die Ou en Nuwe Testament was daar ’n bepaalde verstaan van die term “eunug”, maar ’n dieper verstaan van
Jesus se woorde in Matteus wys vir ons dat Hy verwys na dié wat vrywillig selibaatskap omhels (dit wil sê, wat kies om nie te trou of seksuele verhoudings en kinders te hê nie) ter wille van Sy Koninkryk — en wat sy vervulling vind in die Katolieke Kerk. Dit is ’n hoër roeping, aangesien Hy self selibaat was en Homself aan mense toegewy het op hierdie manier [14]. St. Paulus brei hierop uit in 1 Korintiërs 7:32-33, 35: “Trouens, ek wil hê julle moet onbesorg leef. Die ongetroude man is besorg oor die belange van die Here, hoe hy die Here kan behaag, terwyl die getroude man
besorg is oor die dinge van die wêreld, hoe om sy vrou te behaag; Ek sê dit vir julle beswil, nie om julle aan bande te lê nie, maar ter wille van eerbaarheid en onverdeelde toewyding aan die Here.” In die Nuwe Verbond roep Jesus al Sy mense, deur Sy genade en die krag van die Gees, tot ’n lewe van heiligheid en tot die uitleef van die gawes wat die Gees gee (Matt 19:11). Dit sluit lewens van toegewyde selibaatskap sowel as die huwelik in. Die Ekumeniese Konsilie (al die Biskoppe van oor die aarde wat bymekaar kom) van Trente (Sessie 24, kanon 10) leer, in lyn met die Heilige Skrif, dat die staat van selibaatskap hoër is as die huwelikstaat, hoewel albei roepings van kardinale belang is vir die lewe en voortbestaan van die Kerk (1 Kor 7:1–8, 32–35; Openb 14:4; KKK 1618–20) [15]. Ek bedoel: die huwelik is ’n sakrament in die Katolieke Kerk, en geen ander instelling in die geskiedenis het die gawe van die huwelik en die openheid tot kinders wat
daarmee saamgaan, so bevorder en beskerm soos die Katolieke Kerk nie! Gaan lees net die kerklike dokument Humanae Vitae, en jy sal sien wat ek bedoel!
Voordat ek oor sommige van die ander teologiese redes vir priesterlike selibaatskap op uitbrei, wil ek graag ’n opsommende geskiedkundige oorsig gee van hierdie belangrike dissipline in die lewe van die Kerk.
Een van die merkwaardigste dinge oor hierdie onderwerp is dat die idee van selibaatskap, of toegewyde maagdheid, van die begin af ’n fundamentele deel van die Kerk se sending was om die Evangelie te verkondig en uit te leef – en dit is dit vandag nog steeds.
Eerstens moet ons verstaan dat die Kerk, soos ek vroeër verduidelik het, van nature hiërargies is.
Jesus het Sy Kerk ontwerp om op ’n bepaalde wyse te funksioneer tot ons elkeen se verlossing en tot die konsekwente uitvoering van haar sending. Wanneer ek dus verwys na kerklike dokumente, moet ons begryp dat die Kerk deur haar leiers – die biskoppe, wat die opvolgers van die Apostels is – gesag ontvang het om die gelowiges te onderrig en te lei. Dit sluit ook in hoe die biskoppe en ander geestelikes soos priesters en diakens hul pligte en verantwoordelikhede teenoor die
gelowiges moet uitleef.
Tweedens – en dit is belangrik – van die tyd van die Apostels af, deur die 1ste eeu en verder deur
die 100’s, 200’s, 300’s, 400’s n.C. tot vandag toe, was dit die algemene verstaan dat, om werklik deel van die ware Kerk en die volheid van die waarheid wat sy besit, te wees, jy onder die gesag van die biskoppe van die Katolieke (Universele) Kerk moes en moet wees. Dít is hoe Jesus dit ingestel het, en dit is hoe die gelowiges ná die tyd van die Apostels dit verstaan het. Dit is geen oordrywing om te sê dat hierdie die eenparige leer en verstaan van die vroegste Christene was
nie – die hele Nuwe Testament getuig hiervan: as jy buite die leer en leiding van die Apostels en hul opvolgers opgetree het, het jy dit buite die gegewe gesag gedoen. Ons sien dit byvoorbeeld duidelik by die Ekumeniese Konsilie van Nisea in Turkye in 325 n.C., en later by die Konsilie van Konstantinopel in 381 n.C., waar dit onfeilbaar verklaar is deur die leiers (biskoppe) van die Kerk dat Jesus Christus volkome God en volkome mens is, en dat ons God aanbid in ’n Drie-eenheid:
een Wese, saamwesend in drie Goddelike Persone – Vader, Seun, en Heilige Gees. As jy daardie tyd – en selfs vandag – iets anders glo, sou jy buite die Kerk wees. Daar is ook ander sake wat by hierdie en latere algemene konsilies geleer is (soos die Tweede Vatikaanse Konsilie van 1962– 1965), wat die gewete van die gelowiges bind. Die Kerk het ook plaaslike konsilies waar streekbiskoppe riglyne kan gee aan gelowiges in hulle streek, maar nooit in teenstelling met die
dogmatiese leerstellings van die universele Kerk nie in gemeenskap met die Biskop van Rome, die opvolger van St. Petrus. Dinge wat egter van die begin af onder die gelowiges en hulle herders universeel aanvaar is, dra ook baie gesag. Dít word die sensus fidei genoem – die “aanvoeling van die gelowiges”.
Laastens: Die Kerk het van die begin af dinge gehad wat op skrif gestel is én ook tradisies wat mondelings oorgedra is, soos Sint Paulus skryf in 2 Tessalonisense 2:15: “Daarom dan, broers, wees standvastig, en hou vas aan die oorlewerings waarin julle onderrig is deur 'n woord of 'n brief van ons af.” Daarom is dit belangrik om kennis te neem van wat die Kerk van die begin af aan gehou het – veral as haar God-geordende leiers feitlik eenparig verklaar dat iets apostoliese oorsprong het, soos priesterlike selibaatskap/seksuele onthouding (kontinensie) [16].
Met die bogenoemde agtergrond oor kerklike bestuur en gesag in plek, is dit belangrik om die volgende feite te besef: “Hoewel baie, indien nie meeste priesters (en diakens en biskoppe) in die vroeë Kerk getroud was nie, was hulle verplig om seksuele onthouding (kontinensie) te beoefen – dit wil sê, om nie seksuele omgang met hul vroue te hê nie. Dit was nooit ’n nuwigheid nie, maar die konstante tradisie vanaf die tyd van die Apostels.” [17] “Alle dokumentêre getuienis [uit kerklike bronne en geskrifte] ondersteun hierdie standpunt, en daar is geen teenstrydige getuienis nie. Daar is natuurlik wel getuienis van menslike swakheid en ontrouheid aan hierdie wet van
onthouding en selibaatskap.” [18]
Beide die Westerse (Latynse) en Oosterse (Oosterse-Katolieke in gemeenskap met Rome en Ortodokse, buite volle gemeenskap met Rome) Kerke het hierdie dissipline van óf selibaatskap óf onthouding deur albei se bestaan van die begin af gehandhaaf. Die Latynse Kerk het ’n strenger praktyk van selibaatskap ontwikkel, wat die Nuwe Verbond-priesterskap duideliker weerspieël — ’n priesterskap wat in die voetspore van die Ewige Hoëpriester, Jesus, volg. Die Oosterse Kerke laat wel getroude priesters toe, en daar is ’n apostoliese reg daartoe. Daar is egter ook geskiedkundige kwessies (wat ons hier nie verder gaan bespreek nie) wat daartoe gelei het dat
hierdie praktyk algemeen aanvaar is, in teenstelling met die Westerse Kerk. Die Westerse praktyk blyk egter nader aan die oorspronklike en meer volledige apostoliese betekenis van selibaatskap te wees [19]. Die priesterskap van die Nuwe Testament is die vervulling van die priesterskap van die Ou Testament. Die Levitiese priesters is verplig om seksuele onthouding (kontinensie) te beoefen wanneer hulle diens in die tabernakel of tempel verrig het (sien Lev 15:16–18; Eks 19:15; 1 Sam 21:4–5). Een van die redes hiervoor was dat die priesters so rein moontlik moes wees, aangesien hulle met die offerandes gewerk het. In die Nuwe Testament “werk” priesters egter nie net met offers van diere en oesmale nie, maar met die Liggaam en Bloed van Jesus Christus self – wat God in die vlees is! Daarom behoort die priester homself ten volle te vereenselwig met die priesterskap van sy Here Jesus [20]. Sint Paulus stel dit so mooi in 1 Korintiërs 4:1: “Só moet mense ons beskou: as diensknegte van Christus en as bedienaars van die verborgenhede van God. ” Die priesters van die Ou Testament het hul bediening in spesifieke tydperke uitgeoefen, met afwisseling.
Die priesters van die Nuwe Testament is egter voortdurend in bediening – daagliks. Deur hulle hande word die genade van die doop toegedien, en op die altaar word die Liggaam en Bloed van Christus geoffer. Die Heilige Skrif vereis dat hulle so rein as moontlik moet
wees in hierdie heerlike en heilige diens, en die Kerk het dit nog altyd vereis – en sal dit altyd vereis – dat hulle liggaamlike onthouding handhaaf. Die hele wese van die priester is betrokke by hierdie bediening van Woord en Sakrament [21]. Die dissipline van selibaatskap stel die priester in staat om homself – uit liefde vir Jesus en vir sy naaste – volkome aan God te wy as ’n lewende offer (vgl. Rom. 12:1), sodat hy onophoudelik kan bid, en vry is vir pastorale bediening – om almal te dien, veral die lede van die Kerk. Hoewel daar nog vele geskiedkundige en teologiese aspekte is wat oor hierdie onderwerp van selibaatskap en die doel van die priesterskap bespreek kan word, wil ek hierdie tweede-laaste afdeling afsluit met die volgende aanhaling. Dit wys duidelik dat die rede vir die priesterskap – en die vereiste van selibaatskap – nie bloot prakties of histories is nie, maar veel dieper gewortel is:
“Die priester is geroep om die lewende beeld van Jesus Christus, die Bruidegom van die Kerk, te wees... In sy geestelike lewe is hy dus geroep om Christus se bruidegomsliefde teenoor die Kerk te leef. Die priester is dus nie sonder bruidegomsliefde nie – sy Bruid is die Kerk. Daarom moet die lewe van die priester hierdie bruidegomskarakter uitstraal, wat van hom vereis om ’n getuie van Christus se bruidegomsliefde te wees, en daarom in staat te wees om mense lief te hê met ’n hart wat nuut, vrygewig en rein is – met ware selfverloëning, met volle, konstante en getroue toewyding, en terselfdertyd met ’n soort ‘goddelike jaloesie’ (vgl. 2 Kor 11:2),
ja selfs met ’n moederlike teerheid, wat in staat is om ‘geboortepyne te verduur’ totdat ‘Christus in die gelowiges gevorm is’ (vgl. Gal 4:19).” [22]
Slotgedagtes
Die priesterskap, net soos enige ander roeping soos die huwelik, dra beide ’n goddelike skoonheid as gawe van die Here, maar ook uitdagings. As gevolg van ons gevalle menslike natuur fokus ons dikwels eers op die uitdagings. Wat die priesterskap betref, dink ons dalk aan eensame tye, moeilike of seer ervarings met mense binne en buite die Kerk, die kompleksiteite van die wêreld waarin ons leef, en die rol van die priester om mense te dien wat self deur unieke uitdagings gaan. In die huwelik en gesinslewe dink ons dalk aan die stukkendheid van huwelike wat verbrokkel, kinders of ouers wat deur siekte geraak word, finansiële druk, en vele meer. Maar juis in hierdie uitdagings roep die Here ons om lig en hoop te wees – sout wat Sy liefde, genade en ontferming in die wêreld bring binne die roepinge waartoe Hy ons roep. Almal van ons het ’n gedeelde roeping: om draers van die Goeie Nuus te wees in ’n wêreld wat verlore gaan. Om vir die wêreld te vertel van ’n God wat hulle liefhet en wat wil hê hulle moet Sy seuns en dogters word
en deel hê aan Sy nuwe skepping wat reeds begin het en uiteindelik volmaak sal wees. Laat ons eers op hierdie gedeelde roeping fokus, voordat ons nog dieper onderskei waartoe die Here ons individueel roep.
Sien ook die volgende pragtige getuienis van ’n getroue priester en die impak wat hy kan hê. Dit is van Suster Mariam James Heidland:
“En wat God gedoen het, is om ’n persoon in my lewe in te bring wat verder die koers van my lewe op die mees wonderlike manier verander het. En daardie man was ’n Katolieke priester. En tot vandag toe het ek ’n diep, innige liefde en ontsag vir die priesterskap. My dierbare priester, o, my dierbare priester – jou ‘ja’ verander die lot van menslike siele. Ek is vandag grootliks ’n religieuse suster omdat ’n Katolieke priester God liefgehad het, sy priesterskap liefgehad het, en my liefgehad het. Ek het net gekyk hoe daardie man sy lewe leef. Ai, hy het Jesus liefgehad. O, hy het Jesus liefgehad. En daar was baie dinge waarvoor ek nie kon ‘ja’ sê nie, en dinge wat ek kon ontken. Maar ek kon nie die tasbare teenwoordigheid van Jesus Christus in daardie man ontken nie. En dit was só mooi. En weet jy wat? Hy was nie perfek nie. Hy het sekerlik sy eie storie gehad. Maar ai, hy het Jesus liefgehad. Ek onthou ek was 21 jaar oud en totaal verslaaf. En as jy my
daardie tyd gevra het hoe dit met my gaan, sou ek gesê het ‘ek is reg’, want ek was totaal onbewus van myself. Maar ek onthou hoe ek een dag na Vader gekyk het – hy was baie langer as ek – en ons het oor geloof gesels. En hy was stralend. Ek kon sien hoe Jesus deur sy oë na my kyk. En ek het net vir hom gesê: ‘Vader, ek weet nie wat hier aangaan nie. Ek weet nie wat dít is nie. Maar wat jy het – dit wil ek hê.’ En sy oë het geblink en hy het na my gekyk en gesê: ‘Kom en sien.’ En dit het ek toe gedoen. As dit vir jou bekend klink, dis die eerste woorde wat Jesus in die Evangelie van Johannes aan die dissipels gesê het: ‘Kom en kyk.’ En dit is toe presies wat ek gedoen het.”
Bibliografie en Aanbevole Hulpbronne:
Bibliografie:
[1] Catechism of the Catholic Church, 293 and 341
[2] Catechism of the Catholic Church, 1116
[3] Catechism of the Catholic Church, 460 and 516
[4] Catechism of the Catholic Church, 775
[5] Catechism of the Catholic Church, 1324
[6] Confraternity of Catholic Clergy. 2022. The Priesthood Yesterday, Today, and Tomorrow.
Catholic Truth Society. p. 14
[7] Catechism of the Catholic Church, 1324
[8] John Paul II PP (2003) Ecclesia de Eucharistia. Vatican City: Libreria Editrice Vaticana. p. 5
[9] John Paul II PP (2003) Ecclesia de Eucharistia. Vatican City: Libreria Editrice Vaticana. p. 14
referencing Second Vatican Ecumenical Council, Dogmatic Constitution on the Church Lumen
Gentium, 10.
[10] ibid.
[11] John Paul II PP (2003) Ecclesia de Eucharistia. Vatican City: Libreria Editrice Vaticana. p.
14 referencing Institutio Generalis: Editio typica tertia, No. 147.
[12] John Paul II PP (2003) Ecclesia de Eucharistia. Vatican City: Libreria Editrice Vaticana. p.
14 referencing Pius XII, Encyclical Letter Mediator Dei (20 November 1947): AAS 39 (1947), 556;
cf. Pius X, Apostolic Exhortation Haerent Animo (4 August 1908): Acta Pii X , IV, 16; Pius XI,
Encyclical Letter Ad Catholici Sacerdotii (20 December 1935): AAS 28 (1936), 20.
[13] John Paul II PP (2003) Ecclesia de Eucharistia. Vatican City: Libreria Editrice Vaticana. p. 5
[14] Hahn, S. and Mitch, C. 1st ed. 2024. Ignatius Catholic Study Bible: Old and New
Testaments. San Francisco, CA: Ignatius Press. p. 1760.
[15] ibid.
[16] Stickler, Card. A.M. (1995) The Case for Clerical Celibacy: Its Historical Development and
Theological Foundations. San Francisco, CA: Ignatius Press. p. 7-8
[17] ibid.
[18] ibid.
[19] Stickler, Card. A.M. (1995) The Case for Clerical Celibacy: Its Historical Development and
Theological Foundations. San Francisco, CA: Ignatius Press. p. 25-62
[20] Stickler, Card. A.M. (1995) The Case for Clerical Celibacy: Its Historical Development and
Theological Foundations. San Francisco, CA: Ignatius Press. p. 34-35
[21] Stickler, Card. A.M. (1995) The Case for Clerical Celibacy: Its Historical Development and
Theological Foundations. San Francisco, CA: Ignatius Press. p. 105-106
[22] Stickler, Card. A.M. (1995) The Case for Clerical Celibacy: Its Historical Development and
Theological Foundations. San Francisco, CA: Ignatius Press. p. 108-109
Aanbevole Hulpbronne:
• Benedict XVI PP and Robert Cardinal Sarah. From the Depths of Our Hearts: Priesthood,
Celibacy and the Crisis of the Catholic Church
• Benedict XVI PP. The Spirit of the Liturgy
• Francis PP. Dilexit nos. Vatican City: Libreria Editrice Vaticana
• Archbishop Emeritus Alfred Hughes. Priests In Love with God.
• Stefan Heid. Celibacy in the Early Church: The Beginnings of Obligatory Continence for
Clerics in East and West.
• Brant Pitre. Jesus and the Jewish Roots of the Eucharist: Unlocking the Secrets of the
Last Supper
• Brant Pitre. Jesus and the Jewish Roots of Mary: Unveiling the Mother of the Messiah
• Scott Hahn. The Lamb’s Supper: The Mass as Heaven on Earth
• Scott Hahn. Rome Sweet Home.
• Jimmy Akin: The Fathers Know Best: Your Essential Guide to the Teachings of the Early
Church
• Joe Heschmeyer: The Eucharist is Really Jesus: How Christ’s Body and Blood Are the
Key to Everything We Believe
• Do I regret Becoming a Priest So Young.
https://www.youtube.com/watch?v=GkH3Yz_JR70&list=PLmV0IbfBYrIpp7YIxx7UNmUo
XUMDOBiKt&index=16
• The Comment about Priests That I Can’t Ignore
https://www.youtube.com/watch?v=6Lq1ojaNCn4&list=PLmV0IbfBYrIpp7YIxx7UNmUo
XUMDOBiKt&index=17
• In Love with the Church: A Priest Forever https://escriva.org/en/amar-a-la-iglesia/apriest-
forever/
Get in Touch

Adres: Howick, Suid Afrika
Kontak besonderhede: 065 809 0258 / 072 606 1661
E-pos: info@catholicnetwork.co.za
© 2026 catholicnetwork.co.za
