Om diegene te dien wat navraag doen oor die Katolieke Kerk, of wat volle gemeenskap met die Een Heilige Katolieke en Apostoliese Kerk verlang. Deur 'n landwye netwerk van ondersteuners te vorm, ondersteun en help ons mekaar om ons geloof te verdiep.
Ons leef in ‘n wêreld met soveel opinies, idees en halwe-waarhede – die filosofie van relativisme – dat daar geen vaste waarhede is nie. Dit eggo selfs in die sinodesale van verskeie geloofsgemeenskappe – jy het jou waarheid en ek het my waarheid, daarom moet ons vir mekaar ruimte skep. Selfs God en sy Woord het ‘n blote gespreksgenoot geword wat deur ‘n meerderheidstem op ‘n sinode oorreël kan word.
So weer – maak dit saak om Katoliek te wees? Of kan ek maar ‘n Baptis ook wees? Of ‘n Metodis? Of kan ek maar ‘n NGKerk lidmaat wees?
Wel as Katolieke – as Christene, is ons veronderstel om in waarheid te glo, want ons glo immers in die Waarheid. In Johannes 14:6 sê Jesus: “Ek is die weg en die waarheid.” En wat van as Jesus in Johannes 14:5 belowe dat wanneer die Heilige Gees kom dan sal Hy ons in alle waarheid lei? Dit lyk dus inderdaad of die Bybel, anders as die filosowe, veronderstel dat daar wel iets soos vaste waarheid is. Ingevolge die Tradisie het die Kerk dan nog altyd geleer dat die hoogste vorm van waarheid die Drie-Eenheid is (vgl. CCC par. 234). Alle waarheid vloei dan vanuit hierdie hoogste waarheid van die Drie-Eenheid. God self is dus die objektiewe bron van waarheid. Waarheid is dus iets wat van buite ons kom.
Maar wat nou gemaak as sinodegangers en teoloë onder invloed van die relativisme glo dat God met ‘n stemming oorreël kan word? Maak dit dan moontlik saak om nie ‘n NG-lidmaat of Anglikaan te wees nie?
Daarom weer - maak dit saak om Katliek te wees? Of kan ek maar aan enige geloofsgemeenskap of denominasie behoort – solank ek net maar glo Jesus het aan die kruis gesterf en ons mekaar lief het? Hoe dikwels het ek nie al gehoor nie: “…jy moet net Jesus in jou hart hê, dis al wat tel…”
Kan ek dan “met Jesus in die hart” glo dat om kinders te doop sonde is terwyl my buurman weer met “Jesus in die hart” presies die teenoorgestelde glo? Of met “Jesus in die hart” glo ek vroue mag in die kerklike ampte dien; selfdegeslag-verhoudinge is goed en reg – terwyl die pastoor by die tent om die hoek presies die teenoorgestelde glo? Is Jesus dan nie in sy hart nie? Of het Jesus en die Gees wat in waarheid lei dalk ‘n gesplete persoonlikheid? Is dit die rede waarom die Metodiste Kerk háár waarheid het en die Hervormde Kerk weer háár eie waarheid het? Of is die Gees regtig maar net ‘n gespreksgenoot wat toelaat dat demokratiese stemprosesse van sinode tot sinode verskillende waarhede bepaal?
Maar is dit dan nie die Protestantse Hervormer Martin Luther wat heel kordaat gesê het nie: “In sake van geloof is elke Christen sy eie pous en konsilie” – die Protestantse reg van “private beoordeling”. So hoe weet ons dan wat is waar en reg as elke persoon die inherente reg het om self te beluit oor wat die Bybel leer en beteken? Geen wonder dan dat daar honderde Protestantse geloofsgemeenskappe, sektes en dwalinge is nie – en ek dog Protestante sê die Bybel is helder en duidelik, almal kan dit lees en weet wat waar en reg is… …toe nou nie…
So weer - maak dit saak om Katoliek te wees? Die ironie van hierdie vraag word dan duidelik wanneer Paulus in sy eerste brief aan Timotheus skryf dat dit juis nie demokratiese prosesse en menslike menings, of dominees met relatiwistiese eksegetiese modelle is wat die fondasie van waarheid is nie – maar wel dat dit die Kerk self is wat ‘n pilaar en fondasie van die waarheid is (1 Tim 3:15)! Die Bybel leer dus - waarheid het ‘n fisiese manifistasie, naamlik die Kerk.
Maar van watter Kerk praat Paulus dan? Praat hy van die denominasie wat glo dat die Doop red? - Of die een wat glo dat die Doop geen reddingskrag het nie? Of skryf Paulus hier oor ‘n onsigbare instelling waarvan niemand weet wie regtig daaraan behoort nie, soos baie Caliviniste glo? Maar waar laat dit my dan met die waarheid? Kan die dominee en pastoor wat verskillende goed oor die Doop leer regtig albei gelei word deur die Gees van Waarheid? Kan die dominee en pastoor dus albei aan die ware onsigbare kerk behoort? Of het Jesus, toe Hy beloof het dat die Gees sy Kerk in alle waarheid sal lei, dit nie regtig bedoel nie? Of was dit net vir die eerste 100 jaar wat die Gees die Kerk gelei het? Van watter Kerk praat Paulus in 1 Timotheus 3:15 as ‘n pilaar en fondasie van die waarheid?
Maak dit saak om Katoliek te wees? Of moet ons miskien vra – maak die waarheid saak? As Paulus dan die Kerk beskryf as ‘n pilaar en fondasie van die waarheid, bedoel hy dit bloot metafories? Of is dit moontlik dat Hy na iets sigbaars en en selfs tasbaars kan verwys? Met ander woorde is dit moontlik dat die Kerk waarna Paulus verwys wel die sigbare Liggaam van Jesus Christus kan wees soos wat na die Kerk verwys in Efesiërs 4 en 1 Korinthiërs 12. Of hoe gaan die wêreld weet dat God die Vader sy Seun gestuur het as die eenheid waarvoor Jesus in Johannes 17:20-21 bid, nooit sigbaar hoef te wees nie?
Die Geloofsbelydenis van Nicéa-Konstantinopel leer dan dat die Kerk vier merktekens het, naamlike, sy is Een – sy is Heilig – sy is Katoliek – sy is Apostolies. Die Kerkvaders was dan almal heel eens daarmee oor wat hierdie vier merktekens beteken en hoe dit die Kerk identifiseer.
Vir die Kerkvaders is kerkeenheid nie maar net ‘n onsigbare of metaforiese strewe nie – dit is ‘n noodsaaklikheid. Die Kerk se heiligheid vloei direk vanheid God se heiligheid, terwyl haar universele uitgespreidheid juis aan mekaar verweefd is in haar eenheid. Geen plaaslike gemeente het die reg om haarself af te skei van ander gemeentes nie. Wie die Kerk skeur, skeur die Liggaam van Christus.
“Maak dit saak om Katoliek te wees?” en: “Maak die waarheid saak?” is dus eintlik vrae wat op die geskiedenis berus.
So skryf Ignatius van Antiogië – die Kerk is daar waar die biskop is, want die biskop verteenwoordig Christus. Verder skryf hy hoe belangrik dit is dat die Kerk een prediking en een waarheid moet hê.
Clement van Rome skryf aan die gemeente in Korinthe om die eenheid in die gemeente te bewaar deur ‘n onderdanigheid aan die biskop.
Cyprian of Kartago – God het die Kerk een gemaak en geen mens mag dit verdeel nie.
Jerome van Jerusalem – moenie vra waar die kerk is nie, want die ketters noem hulle byeenkomste ook “kerk”, vra eerder waar is die biskop en daar sal jy die ware Kerk kry.
Irenaeus – die toets vir die ware Kerk is eenheid met Rome.
Clement van Alexandria en Origen – buite die sigbare Kerk is daar nie redding nie.
Tertullian – die Kerk is soos ‘n ark waarbuite niemand gered kan word nie.
So ook vir die Konsilievaders van Nicea (325) en die latere Konstantinopel (398) was die 4 merktekens van die Kerk ‘n praktiese manier om te bepaal wie die ketters is wat “buite” die ware Kerk is.
Hierdie is slegs enkele Kerkvaders. Verder was al die Kerkvaders ook eensgesind en eenstemmig rondom die volgende drie belangrike punte:
Hoe word ek deel van die Kerk? Ek word deel deur die Sakrament van die Doop wat wedergeboorte en innerlike herskepping bewerk;
Hoe word die Kerk regeer? Deur die biskoppe as die opvolgers van die Apostels;
Hoe aanbid ons? Ons aanbid deur ons deelname aan die Offer van die Eucharistie. Jesus Christus is na liggaam en siel, liggaam en bloed, menslike en goddelike natuur, waarlik teenwoordig in die Eucharistie.
Dit is dan opvallend dat geen Protestantse denominasie met al drie hierdie 3 genoemde punte saamstem nie.
Geen wonder John Henry Newman argumenteer dan die volgende nie: “Om diep in die geskiedenis te wees, is om op te hou om Protestants te wees.” Dikwels hoor ek dat ons net moet terruggaan na hoe die vroeg-Christelike Kerk gedoen en geleer het. Wel, kom ons gaan kyk dan eerlik wat doen en sê die Christene wat daar was en jy sal verbaas wees oor wat hulle gedoen en geleer het.
Maak dit dan saak om Katoliek te wees?
Of maak die waarheid nie saak nie?
ENKELE BRONNE:
Die Die Institusie van die Christelike godsdiens, deur Johannes Calvyn.
The Fathers know best, deur Jimmy Akin.
Biblical Catholic Answers for John Calvin, deur Dave Armstrong.
A Biblical Critique of Calvinism, deur Dave Armstrong.
The Early Church, deur George Hodges.
The Seven Ecumenical councils, deur Henry R Percival.
The Roots of the Reformation, deur Karl Adam.
The Protestant’s Dilemma, deur Devin Rose.
An Essay in the Development of Christian Doctrine, deur John Henry Newman.
Get in Touch

Adres: Howick, Suid Afrika
Kontak besonderhede: 065 809 0258 / 072 606 1661
E-pos: info@catholicnetwork.co.za
© 2026 catholicnetwork.co.za
