Om diegene te dien wat navraag doen oor die Katolieke Kerk, of wat volle gemeenskap met die Een Heilige Katolieke en Apostoliese Kerk verlang. Deur 'n landwye netwerk van ondersteuners te vorm, ondersteun en help ons mekaar om ons geloof te verdiep.
Dr. Jacobus de Bruyn
In ‘n onlangse gesprek met ‘n protestantse persoon hoor ek vir die soveelste keer: ‘Jy moet net in Jesus glo en Hom as jou persoonlike Verlosser aanvaar, dis al wat saakmaak, dis al wat nodig is. Dit is die kern van ons geloof. Die res maak nie saak nie, want dit is mensgemaakte dinge.’
‘Toegegee,’ reageer ek, ‘maar dit is ook nou nie heeltemal so eenvoudig nie…’
Maar voor ek verder kan gaan, reageer hy met beslissing: ‘Om in die hemel te kom, moet ek net glo in Jesus, dis al.’
Ek besluit om eers die saak te los - dit is immers die eerste keer dat ons saam koffie drink, en boonop is ons in sy huis.
Maar dan begin hy my vertel van sy betrokkenheid by sending onder Moslems. Hy vra my of ek weet dat Moslems ook aan Jesus glo, maar wel net as ‘n profeet, nie dat Jesus God is nie. Toe ek ‘ja’antwoord gaan hy aan en sê: ‘so dis noggal nodig om te glo dat Jesus God is en nie net mens nie, want as jy nie glo dat Jesus God is nie, is dit so goed jy is ‘n Moslem.’
Ek sien my kans en sê: ‘Ja, dit is hoekom die Geloofsbelydenis van Nicéa vir ons so belangrik is.’
‘Ja,’ reageer hy terug, ‘jy kan nie regtig ‘n Christen wees sonder dit nie,’ voeg hy by.
Versigtig besluit ek om my kans te gebruik, en ek vra: ‘Verstaan ek nou reg, 5 minute terug het jy gesê dat dat al wat nodig is om in die hemel te kom, is om te glo in Jesus? Nou egter wil jy ‘n plus byvoeg – jy moet nou ook glo dat Jesus God en mens is. So nou kom iets by?’
Sy reaksie het boekdele gespreek – ‘Maar jy moet reg glo oor Jesus, dis tog nodig.’
‘Natuurlik,’ reageer ek, ‘maar my vraag nou aan jou is dit: eers sê jy dat al wat nodig is om in die hemel te kom, is om in Jesus te glo en om Hom as Verslosser te aanvaar. Nou blyk dit uit wat jyself sê dat dit inderdaad nie genoeg is nie. In effek word die Geloofsbelydenis van Niceéa nou bygevoeg by die ‘glo in Jesus.’ My vraag dan is: Wie besluit oor die plus? Wie besluit oor wat bygevoeg moet word by die ‘glo in Jesus’?
Toe hy my nie dadelik antwoord nie, besluit ek om my argument nog verder te waag.
‘Die rede waarom ek jou vra,’ sê ek toe, ‘is oor wat ek by die dorp se ‘dominee-en-pastore-forum’ beleef het.
Ek vertel hom toe dat ek baie onlangs vir die eerste keer die dorp se ‘dominee-en-pastore-forum’ bygewoon het. In die lig van die Geloofsbelydenis van Nicéa se 1700jarige herdenking (2025), wou ek graag die dominees en pastore uitnooi na ‘n ekumeniese geleetheid ter viering van die Geloofsbelydenis. Geskok moes ek egter hoor dat ek nie daaroor mag praat nie, want nie almal daar teenoordig by die forum glo in of aanvaar die Geloofsbelydenis van Nicéa nie! Om die waarheid te sê, ons mag glad nie oor kerk praat by die forum nie.
‘Is dit nie bietjie ironies nie?’ vra ek toe my koffie-drink-vriend.
‘Ja, dit is,’ erken hy.
‘Maar nou,’ sê ek toe vir hom, ‘wil jy nou vir my sê, in die lig van wat ons nou net vir mekaar gesê het, dat meer as die helfte van daardie self-aangestelde pastore op die forum dan eintlik Moslems is – en eintlik dan in ‘n verkeerde Jesus glo – en dus nie hemel toe gaan nie?’
My vraag dus: Wie besluit oor die kern van wat ons moet glo?
Hierdie vraag bring dan die groot verskil oor gesag tussen Katolieke en protestante na vore – wie besluit. En ek hoop dat daar reeds iets uit my bogenoemde belewenisse na vore kom wat ten minste vir jou as leser aan die dink sit. Want wat hierdie belewenisse van my wél uitwys, is die spanning in protestantisme tussen die onhoudbare teenstrydighede van ‘die Skrif alleen’ (sola scriptura) aan die een kant, en dan aan die ander kant, elke individuele protestant se ‘reg op private beoordeling’ – dat elke protestant, soos wat Martin Luther dit gestel het, in sake van geloof sy eie pous en konsilie is. Wie besluit dan oor wat die kern van ons geloof is? – Die Bybel alleen? – Of die individuele protestant? Toe ek nog ‘n protestantse predikant was, het ek dikwels die spanning tussen hierdié twee protestantse beginsels beleef, en gewoonlik was mense se kreet van ‘sola Scriptura’ bloot ‘n skans vir ‘sola wat-ek-sê.’ Dis dan ook vreemd dat protestante nie eers saamstem oor presies wat ‘sola Scriptura’ behels en hoe dit verband hou met die ‘reg op private beoordeling’ nie.
In Geisler & Mackenzie se boek: ‘Roman Catholics and Evangelicals: Agreements and Differences,’ definieer hulle ‘sola Scriptura’ as dat die Skrif alleen is eendersyds ‘materieel’ en andersins ‘formeel’ genoegsaam vir Christene. Met die ‘materiële genoegsaamheid’ van die Bybel bedoel Geisler & Mackenzie dat alles wat nodig is om te weet oor God en verlossing, is in die Bybel. Katolieke kan hiermee saamstem, maar nie met die volgende deel van Geisler & Mackenzie se definisie nie, naamlik die ‘formele’ sy van ‘sola Scriptura.’ Met die ‘formele’ kant van ‘sola Scriptura’ bedoel Geisler & en Mackenzie dat die Bybel is absoluut duidelik in homself en interpreteer homself – niks anders is nodig nie – geen formele strukture of ‘n hoër gesag nie; die Bybel is al wat nodig is vir Christene se geestelike lewe en geloofsgroei; die Bybel alleen is onfeilbaar; die Bybel is die primêre en absolute bron vir alle dogmas en praktyke in die geloofsgemeenskap. Nie net is die Bybel volgens ‘sola Scriptura’ genoegsaam nie, maar dit is ook die enigste en finale appèl van gesag en outoriteit – dit is die finale outoriteit. Mens wonder dan hoe protestantse sinodes dit dan regkry om die Bybel as ‘n blote gespreksgenoot te beskou – ‘n gespreksgenoot wat boonop nog deur ‘n meerderheidstem oorreël kan word. Of is dit juis omdat elke gelowige volgens Martin Luther die reg het om self te besluit oor wat die Bybel leer en beteken – Johannes Calvyn se ‘reg op private beoordeling’?
In ‘n debat op You Tube met die Katolieke apologeet Trent Horn, omskryf die Presbiteriaan, Gavin Ortlund, ‘sola Scriptura’ egter bloot as dat die Bybel is die enigste gesagsbron wat onfeilbaar is. Ortlund aanvaar dan wel ander gesagstrukture en belydenisskrifte vir die Christen geloofsgemeenskap, maar geen een van hierdie strukture en belydenisskfte is onfeilbaar nie. Maar weer, mens wonder dan net – as onfeilbaarheid bloot ‘sonder foute’ beteken, hoe en hoekom kan die Geloofsbelydenis van Nicéa dan juis nie onfeilbaar wees nie? Veral as mens soos my koffie-drink-vriend hierbo Nicéa as ‘n plus wil byvoeg om ‘in die regte Jesus’ te glo – om in die hemel te kom? Buitendien, as mens nie sou wou aanvaar dat die Geloofsbelydenis van Nicéa(-Konstantinopel) onfeilbaar (sonder foute) is nie, hoe kan jy dan seker wees dat jy die ware God aanbid?
Martin Luther self definieer ‘sola Scriptura’ weer as dat die Skrif alleen is die hoogste gesag vir Christene – ‘n gesagstruktuur wat hy egter misbruik het om enige ander gelowige se ‘reg om self pous en kosilie’ te wees, weg te neem as hulle dit sou durf waag om van hom wat Luther is te verskil.
Die gereformeerde belydenisskrif, die Westminster Konfessie, stel dit in artikels 9 en 10 dat volgens ‘sola Scriptura’ interpreteer die Bybel homself en dat die Bybel die hoogste regter in geloofsake is. Mens wonder dan net watter een van die honderde protestantse denominasies en sektes verstaan die Bybel as ‘hoogste regter’ korrek? En deur watter denominasie praat die Bybel dan as ‘regter’ en deur watter nie? En wie bepaal dat daar reg gehoor word wat die ‘regter’ sê?
Maar die vreemde spanning in Westminster Konfessie gaan selfs verder wanneer die Christen gelowige se reg om ‘nie in sy gewete gebind te word nie,’ soos volg in artikel 20 uiteengesit word: “God alone is Lord of the conscience, and has left it free from the doctrines and commandments of men, which are, in anything, contrary to His Word; or beside it, in matters of faith, or worship. So that, to believe such doctrines, or to obey such commands, out of conscience, is to betray true liberty of conscience: and the requiring of an implicit faith, and an absolute and blind obedience, is to destroy liberty of conscience, and reason also.” Die Bybel is dus die ‘hoogste regter,’ maar my gewete mag nie gebind word deur ‘n interpretasie van die Bybel nie. Ons kan ook nie mekaar se gewetens bind deur ‘n uitspraak te lewer oor wie die ‘hoogste regter’ reg hoor nie. So, my tent se pastoor mag nie my gewete bind met plusse en minuses by my geloof nie. Ek is vry om self te besluit wat om te glo en hoe om in die hemel in te kom – so is ons terug by Martin Luther. Die ironie is net dat, ervaring en die geskiedenis wys, Westminster wou en wil wel almal anders wat nie met hom saamstem nie, se gewetes bind.
Maar dan weer - het die Southern Baptist Church in Amerika dan nie onlangs (2024) hulleself deur ‘n demokratiese stemproses soortgelyk aan Moslems verklaar deur nie die Geloofsbelydenis van Nicéa te aanvaar nie? Het hulle die Bybel as ‘regter’ reg gehoor? Is die Leer oor die Drie-Eenheid en Jesus se Twee Persone dan feilbaar? Was Arius dan moontlik reg? Want sien, as volgens die protestantse beginsel van ‘gewetensvryheid’ en ‘persoonlike beoordeling’ elke Christen self mag (selfs moet!) besluit nadat hyself die ‘hoogste regter’ gehoor het, dan was die Konsilie van Nicéa (325) eintlik oorbodig en selfs verkeerd – want dan het niemand die reg gehad om Arius se gewete te bind nie! Dit was dus eintlik, net soos vandag, ‘n geval van – jy het jou waarheid en ek het my waarheid, ons moet ruimte skep vir mekaar - jy het jou ‘sola Scriptura’ en ek het my ‘sola Scriptura’ en jy mag nie my gewete met jou waarheid bind nie…
…die chaos van protestantse eiegeregtigheid - honderde denominasies, sektes en dwallinge – almal in kompetisie rondom wie se ‘sola Scriptura’ die beter een is, terwyl niemand eintlik die ander een se gewete kan bind nie…almal is reg…en almal is verkeerd…jy het jou plus en ek het my plus…
Maar is dit wat die Bybel leer – ‘n versplintering van die Liggaam van Christus in die naam van jou sola en my sola, jou plus en my minus? Hoe moet die wêreld dan weet dat die Vader sy Seun gestuur het (Johannes 17) as die protestantse geloofstente nie eers kan saamstem oor die Geloofsbelydenis van Nicéa nie? - of wat ‘sola Scriptura’ beteken nie? En ek dog die Bybel is soos wat Calvyn beweer het, so duidelik dat enige persoon wat dit lees sal kan weet wat die waarheid is? Toe nou nie.
Die Bybel leer nie jy het jou waarheid en ek het my waarheid nie. Ironies genoeg leer die Bybel ook nie ‘sola Scriptura’ nie. Die Bybel in homself leer ook nie dat elke gelowige die reg op private beoordeling het nie. Die Bybel leer ook nie dat gelowiges so vry is dat hulle gewetens nie gebind mag word nie. En ek dog protestante baseer alles op die Bybel? Toe nou nie.
Die Bybel leer duidelik in 1 Timotheus 3:14 dat dit die Kerk is wat ‘n pilaar en fondament van die waarheid is. Petrus en Paulus waarsku elkeen in hulle briewe aan gemeentes teen valse leraars wat hulle tente gaan kom opslaan in die dorp – mense wat die Evangelie gaan verdraai juis omdat hulle nie in hulle gewete gebind wil word nie en daarom hulle eie pastore en dominees gaan aanstel om hulle in hulle gehoor te streel (vgl. 2 Tim 3 en 4), sodat hulle elkeen hulle eie waarheid kan skep waarvoor die ander dan moet ruimte skep – want ons mag nie mekaar se gewetens bind nie. Teenoor die protestantse beginsel van die ‘reg op private beoordeling’ leer die Bybel dat geen saak (profesie) in die Skrif berus op ‘n eie uitleg nie (2 Pet 1:20). Jy het dus nie die reg om self te interpreteer en jou eie tent op te slaan en die Liggaam van Christus te skeur nie. Die Bybel leer dat die Gees deur die profete gespreek het en dat die Gees die Kerk as Liggaam van Christus in waarheid sal lei (vgl. Joh 14:26 en 16), sodat ons inderdaad sal kan weet wat is reg en verkeerd, sodat ons inderdaad mekaar se gewetens met die waarheid kan bind.
Die spreekwoord sê nie verniet – ‘elke ketter het sy letter’ nie. Nie net is ‘sola Scriptura’ on-Bybels nie, maar die chaos van protestantisme bewys dat dit ook nie in praktyk werk nie. So skryf Sint Vincent van Lerins (sterf in 445n.C.) reeds in die 5de eeu in sy boek die ‘The Commonitory’ in hoofstuk 25: “Here, possibly, some one may ask, Do heretics also appeal to Scripture? They do indeed, and with a vengeance; for you may see them scamper through every single book of Holy Scripture,--through the books of Moses, the books of Kings, the Psalms, the Epistles, the Gospels, the Prophets. Whether among their own people, or among strangers, in private or in public, in speaking or in writing, at convivial meetings, or in the streets, hardly ever do they bring forward anything of their own which they do not endeavour to shelter under words of Scripture.”
So waar moet ons die waarheid vind sodat ons reg kan glo? En wie belsuit oor wat hierdie waarheid is? Dit is dan wat Sint Irenaeus se stem vanuit die 2de eeu weerklink as hy in sy boek ‘Against Heresies’ skryf: “The truth is to be found nowhere else but in the Catholic Church, the sole depository of apostolic doctrine. Heresies are of recent formation, and cannot trace their origin back to the apostles. Since therefore we have such proofs, it is not necessary to seek the truth among others which it is easy to obtain from the Church; since the apostles, like a rich man [depositing his money] in a bank, lodged in her hands most copiously all things pertaining to the truth: so that every man, whosoever will, can draw from her the water of life. (Revelation 22:17) For she is the entrance to life; all others are thieves and robbers. On this account are we bound to avoid them, but to make choice of the thing pertaining to the Church with the utmost diligence, and to lay hold of the tradition of the truth. For how stands the case? Suppose there arises a dispute relative to some important question among us, should we not have recourse to the most ancient Churches with which the apostles held constant communion, and learn from them what is certain and clear in regard to the present question? For how should it be if the apostles themselves had not left us writings? Would it not be necessary, [in that case,] to follow the course of the tradition which they handed down to those to whom they did commit the Churches?”
Uit dit wat Sint Irenaeus skryf kan ons ‘n duidelike model aflei vir die gesagstruktuur in die Kerk en hoe die waarheid van wat ons moet en kan glo, bepaal word. Ons kan hierdie model vergelyk met ‘n drie-poot-stoel. Sonder enige een van die drie pote val die stoel om – elke poot het dus ook die ander nodig. Hierdie model impliseer dus ‘n wisselwerking tussen die drie pote.
Die 1ste poot is die Bybel. Die Bybel is vir ons die Woord van God soos dit neergeskryf is onder die inspirasie van die Heilige Gees (CCC par. 80). Die Bybel is vir ons sekerlik die belangrikste boek in ons lewe, maar die Bybel is nie altyd so duidelik en maklik om te verstaan en te interpreteer nie. En aangesien die Bybel self leer dat die Bybel nie ‘n saak van eie-uitleg is nie, het ons nog iets nodig om ons te help om te verstaan wat ons lees. Hierdie iets moet dan gesagvol genoeg wees, sodat dit die leiding van die Gees van God soos wat Jesus belowe het, sal weerspiëel.
Dit bring ons by die 2de poot, naamlik die Magisterium. Die Magisterium is al die Biskoppe van die Kerk onder die leierskap van die Pous, die Biskop van Rome. In Johannes 20 blaas Jesus op die 11 Apostels en sê dat wat hulle ook al op aarde bind, in die hemel gebind sal wees en wat hulle ook al op aarde ontbind, sal in die hemel ontbonde wees. In die boek Handelinge lees ons dan meer as een keer van hoe Paulus Ouderlinge in die gemeentes aanstel om die leiding te neem. Aan Timotheus skryf hy dat Timotheus bekwame manne moet kies en aan hulle sal oordra wat aan hom oorgedra is deur Paulus (vgl. 2 Tim 2:1-2). Dit is hieruit wat ons belydenis vloei dat ons glo dat die Kerk ‘apostolies’is. Die Kerk is nie net gebou op die leer van die Apostels nie, elke Biskop kan sy lyn van aanstelling terug trek tot by een van die oorspronklike Apostels. As opvolgers van die Apostels is dit die taak van die Magisterium om die Bybel te interpreteer en om aan die hand van die Bybel die Kerkvolk te lei.
En dan die 3de poot, naamlik die Tradisie. Die woord ‘tradisie’ beteken vanuit die Grieks – ‘om oor te dra’ soos wat ‘n aflosstokkie in ‘n aflos wedloop van atleet tot atleet oorgedra word. In die Kerk is dit die ‘geloofsbeursie van wat ons glo’ wat van geslag tot geslag oorgedra word deur die Tradisie van die Kerk in ooreenstemming met die Bybel aan die hand van die Magasterium. In 2 Thessalonisense 2:15 skryf Paulus aan die gemeente: “Daarom dan, broers, wees standvastig en hou vas aan die oorleweringe (tradisie) waarin julle onderrig is deur ‘n woord of ‘n brief van ons af.” Nie alles wat nodig is vir ‘n goeie geloof is in die Bybel opgeteken nie. Neem nou maar die voorbeeld van die aantal Boeke in die Bybel. Die Bybel het nie uitgkom met ‘n duidelike inhoudsopgawe van watter Boeke in dit moes of nie moes wees nie. Die Kerk moes dus daaroor uitspraak gee – ‘n uitspaak wat bindend is vir die gewetens van gelowiges. Nog ‘n voorbeeld is juis ons belydenis dat Jesus ‘een in wese met die Vader’is – ‘homoousios’. Hierdie woord kom nie in die Bybel voor nie. Om die waarheid te sê ook die begrip ‘Drie-Eenheid’ kom nie in die Bybel voor nie. Maar tog is dit wat die Kerk bely na die Konsilie van Nicéa in 325n.C. En net soos wat die Heilige Gees die Bybel geïnspireer het, het die Konsilievaders geglo dat die Heilige Gees, net soos in Handelinge 15, die Kerk geïnspireer het in haar onderskeidingsbesluit rondom die Drie-Eenheid. God het deur Nicéa gepreek, daarom is die Konsiliebesluite wat daar geneem is, bindend en enige iemand wat nie is sy gewete daardeur gebind wou wees nie, is as ‘n ketter beskou. Die heilige Tradisie sluit dan onder andere al die Konsiliebesluite van die Kerk deur die geskiedens heen in.
Vatikaan II verklaar dan dat beide die heilige Tradisie en die Heilige Skrif voortvloei vanuit dieselfde goddelike fontein. Waar die Skrif die geskrewe Woord van God is, is dit die taak van die opvolgers van die Apostels om die heilige Tradisie rondom hoe die geskrewe Woord van God gelees en verstaan moet word, oor te dra. Gevolglik is dit nie net vanuit die Heilige Skrif alleen wat die Kerk haar geloofsekerhede haal nie. Daarom word beide die Skrif en die Tradisie met dieselfde eerbied behandel (vgl. Vatikaan II, Dei Verbum, par 9-10).
Gesamentlik, en in afhanklikheid van mekaar, vorm die Skrif, die Magisterium en die Tradisie die gesagstruktuur van die Katolieke Kerk. Dit is dus die Kerk, as Liggaam van Christus, wat bepaal wat die kern van ons geloof is en wat ons moet glo en nie moet glo nie. Dit is nie vir elke lidmaat om self te besluit nie.
In die Katolieke Kerk het lidmate wel ‘n begrensde voorreg tot eie beoordeling. Ons sou hierdie begrensde voorreg dan met ‘n speelpark kon vergelyk. In die speelpark is daar rondomtalies, glyplanke, klimrame, wipplanke, stampkarretjies, ‘n sandput en swaaie. Daar is bome, plante en blomme, bankies en gras. Party van ons hou dalk van die swaaie, en ander hou daarvan om op die gras in die son te sit. Nog ander van ons hou dalk eerder van lees onder ‘n boom, terwyl ander weer die stampkarretjies verkies. Ons kan selfs redeneer en verskil oor watter speelding of plek in die speelpark die lekkerste is, maar wat ons almal duidelik weet, is dat daar ‘n duidelike grens om die speelpark is. Ons weet dat as ons buite die grense van die speelpark speel, speel ons in die pad en loop ons die gevaar om seer te kry. So is die Kerk ons ‘speel area’. Sommige hou van die Breviary, ander van meditatiewe gebed. Party verkies die Angelus. Ander is Jesuite en nog ander Dominikane, elkeen met sy eie invalshoek, beklemtonings en spiritualiteit. Ons mag selfs saam gesels oor die betekenis van Bybelgedeeltes – maar wat ons almal baie duidelik weet, is dat die Kerk, ons ‘speel area,’ duidelike grense het. Hierdie grense word dan nie deur myself bepaal nie, maar deur die Skrif, die Magisterium en die Tradisie – die drie-poot-stoel van gesag in die Kerk. En as ek buite die grense beweeg, stel ek myself nie net in gevaar nie, ek stel myself buite die Kerk en haar gesag.
Op hierdie wyse en deur hierdie drie-poot-stoel word die eenheid van die Kerk ook sigbaar beskerm – nie net sodat lidmate kan weet wat hulle moet glo en wat die kern van ons geloof is nie, maar sodat die wêreld kan weet dat die Vader sy Seun gestuur het.
ENKELE BRONNE:
Against Heresies, deur St Irenaeus
The Commonitory, deur St. Vincent of Lerins
Roman Catholics and Evangelicals: Agreements and Differences, deur Geisler & MacKenzie
Die Westminster Konfessie.
Vatikaan II
Die Institusie van die Christelike godsdiens, deur Johannes Calvyn.
The Fathers know best, deur Jimmy Akin.
Biblical Catholic Answers for John Calvin, deur Dave Armstrong.
A Biblical Critique of Calvinism, deur Dave Armstrong.
The Early Church, deur George Hodges.
The Seven Ecumenical councils, deur Henry R Percival.
The Roots of the Reformation, deur Karl Adam.
The Protestant’s Dilemma, deur Devin Rose.
Get in Touch

Adres: Howick, Suid Afrika
Kontak besonderhede: 065 809 0258 / 072 606 1661
E-pos: info@catholicnetwork.co.za
© 2026 catholicnetwork.co.za
